ADAM TAS SE “PATATAS EN PYPTABAK” – ‘N ALBUM WAT JOU DIEPSTE WESE AANGRYP

Adam Tas het ‘n unieke manier om hartslirieke en musiek tot iets te verweef wat jou aangryp en direk tot jou siel spreek. Sy nuutste vrystelling, “Patatas en Pyptabak”, is beslis geen uitsondering nie.

Die album beslaan 13 snitte wat sorgvuldig gevorm is om, vanuit ‘n nuwe invalshoek, stories te vertel van mense, liefde, vriendskap, verlies, lewensreise, eenheid en hoop, met ‘n duidelik- patriotiese en onbeskaamd-geestelike ondertoon.

Tas se uitsonderlike stem smelt

moeiteloos met die klanke van kitaar, bas, klavier, mondfluitjie, drom en selfs simfonie-elemente saam in sy uitvoering van snitte soos “Melk-

en-heuning-vrou”, “Die laaste kitaar op aarde”, “Afrikagrond”, “My moeder is ‘n taal” en “Manna vir die boere” – ‘n meesterlike album wat gegrond, opreg en rou, dog pragtig poëties is.

Die album sluit ook twee duette in – die tong-in-die-kies “Ek slaap sleg sedert ek dood is” met Ricus Nel en die Nick Cave-gunsteling, “Where the wild roses grow”, met Andriëtte – wat kleure van humor en drama as komplement aan ‘n reeds ryke musikale aanbieding verleen – ‘n album wat gerat is om tot aan die kruin van menige ranglyse te styg.

Die album is nou landswyd beskikbaar.