SAARKIE bestaan uit drie pragtige, talentvolle musikante.

Lila Botha – dromme en agtergrondstem (BA Menslike beweginskunde – Universiteit van Pretoria)
Adèle Fouché– kitaar, mondfluitjie en hoofsanger (BA Musiek Universiteit van Pretoria)
Erika Pretorius – baskitaar en klawerboard en agtergrondstem (COPA Klawerbord en baskitaar)

SAARKIE het die afgelope tien jaar diep spore kom trap in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en kan deesdae beskryf word as die land se gunsteling vroulike rockgroep. Hierdie Ghoema (Beste Rock- Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo, Groep van die Jaar)- en SAMA (Beste Rock- Album)-benoemde trio is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n eiesoortige, energieke, bars-uit-jou-nate-musiekstyl wat getuig van hulle talent, passie en sinergie. Hulle funky elektries-akoestiese ritmes, solos en verhoogpersoonlikheid laat gehore van alle ouderdomme nader staan om saam te dans.

Die groep het, sedert hul ontstaan, al stempel afgedruk by al die grootste Suid-Afrikaanse muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, STRAB en Innibos en vele meer reg oor die land. Hulle het ook die verhoog gedeel met van die land se bekendstes soos Karen Zoid, Klopjag, Van Coke Kartel, Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Die Heuwels Fantasties, The Parlotones, Eden en Pieter Koen.

MEDIA

SAARKIE het ook al in vooraanstaande publikasies, waaronder Beeld, Vrouekeur, Huisgenoot, Kampus Beeld, Die Burger, Die Laevelder en vele meer, verskyn.

TELEVISIE EN RADIO

SAARKIE was al op televisieprogramme soos: Dis Hoe Dit Is Met Steve, MK Live, Fiesta, Expresso, Jou Show met Emo Adams, kykNET Top 20, kykNET JAM, Lekker TV, Jam Sandwich, CNBC Africa en Skole Top 10. “Dit was vreeslik lekker om op Jam Sandwich saam met Okmalumloolkat te werk. Ons het slegs vier ure gehad om ’n liedjie saam te maak, wat goed genoeg is om op televisie te speel. Ons kon nie sy taal praat nie en hy nie ons s’n nie, maar tog het ons gou mekaar gevind en ’n cool collaboration saamgestel,” vertel hulle.
SAARKIE doen ook gereeld radio-onderhoude en het tot al luisteraars in Nieu-Seeland met hulle talent en musiekvideo’s beïndruk.

Al drie is afkomstig van die Oos-Rand maar is woonagtig in Pretoria

DIE MUSIEK WAT HULLE OP DIE MAP GESIT HET

Die groep het in 2009 hul debuutalbum, Luister, vrygestel.
Identiteit, hul tweede album, het in Maart 2011 die lig gesien. Die album verteenwoordig selfvertroue en moedig die luisteraar aan om sy of haar eie identiteit te vind en uit te leef”, sê SAARKIE. Die album bevat ook ’n snit wat deur die land se bekendste rocker, Jan Blohm, geskryf is. Nader Aan My is baie positief deur ontvang en het sommer van die begin af die trefferleer geklim. “Dit was absolute eer en hoogtepunt vir ons om saam met so ’n groot kunstenaar soos Jan Blohm te werk en geassosieer te word. Ons is baie opgewonde oor die liedjie en dit pas perfek in by SAARKIE se vibe,” sê die meisies.

Album nommer drie, Reisiger, is in Maart 2015 vrygestel en word beskou as hulle beste album tot op datum.
Vyf van die album se snitte word gereeld oor die radio gehoor en die titelsnit was nommer een op die Wild Coast FM Top 40-treffersparade, terwyl die enkelsnit, Kamers van my Hart, tans derde is op dieselfde trefferslys. Laasgenoemde was oop op die Skole Top 10 en die musiekvideo het ook reeds ’n draai gemaak op kykNET se Top 20.

SAARKIE is besig met hulle vierde album wat middel 2017 vrygestel gaan word.

DIE MEDIA SE MENING OOR DIE GROEP

“… ons leer met Saartjie om na SAARKIE te luister. Ek hou van SAARKIE en dink hulle het ’n punt beet in hul liedjies.” – Rozanne Els – Beeld
“… musiek pols en die lede se jeugdige lewenslus laat ’n mens onwillekeurig goed voel.” – CJ de Swart – Vrouekeur
SAARKIE maak die soort musiek wat jy kliphard wil speel wanneer jy vroegaand met die kar vol pelle die pad na ’n belowende makietie vat.” – Yvonne Beyers – Tempo in Huisgenoot
“… Die 12 snitte doen presies wat SAARKIE wou doen: ’n Unieke klank wat nie soos iemand anders se musiek klink nie.” – Clarissa Grobler – Volksblad