SES SNARE – TUISGEMAAK

Ses Snare bring ‘n splinternuwe program na die Tarentaal Teater.

Oor die afgelope jare het die Snare ‘n stewige ondersteunersbasis by die Tarentaal Teater opgebou, en groot sukses met verskeie produksies by die teater gehad. Tuisgemaak is ‘n produksie met musiek deur Suid-Afrikaanse kunstenaars wat plaaslik sowel as op die wêreldverhoog sukses behaal het. Die produksie open by Innibos, speel ook by Aardklop en getroue Tarentaal teatergangers sal nie teleurgesteld wees met hierdie nuutste Ses Snare program nie.

Daar is musiek van Johnny Clegg, Ballyhoo, Vusi Mahlasela, Mango Groove, Arno Carstens, Coleske, Ladysmith Black Mambaso, musiek uit Ipi Tobi om net ‘n paar te noem. Musiekliefhebbers wat LM Radio, Springbokradio se treffersparade en die Springbok-plate met die skamel geklede meisies op die buiteblad onthou, sal ook ‘n klompie treffers uit daardie dae onthou.

Die musiek kry die spesiale en unieke Ses Snare behandeling met verwerkings vir ses stemme en kitare, hope kitaarsolo’s en interessante harmonieë.