Die uiters gewilde Touch of Class musiekduo is terug, maar in ‘n heel nuwe baadjie en met ‘n klank wat musiekliefhebbers vanaf die eerste noot sal uitboul. Hierdie groep wat 23 jaar gelede ‘n huishoudelike naam in SA geword het met hul groot treffer Ek en My Meisie, het intussen die splinternuwe stem van Ruhan du Toit met groot sukses ingespan. Ronell Erasmus wat voorheen aan die groep verbonde was, het die groep onlangs verlaat en fokus tans uitsluitlik op haar sololoopbaan in geestelike musiek.
“Touch of Class was nog altyd by ‘n wye verskeidenheid musiek betrokke en die veelsydige stem van Ruhan du Toit het al die kwaliteite daarvoor. Hy is een van min kunstenaars wat die vermoë het om sonder inspanning in drie oktawe te sing,” vertel Deon van der Merwe, die ander helfte van dié besonderse musiekgroep.
Koffiefontein en A Touch Of Classic is twee kraakvars albums deur hierdie gewilde duo. “Met die keuse van die liedjies het ons probeer om op die Touch of Class-resep voort te bou: van iets nuuts tot iets bekends,” vertel Ruhan. Koffiefontein skop af met die blink radiotreffers, My prinses en Dans in die Reën wat Du Toit se kenmerkende rasperstem in al sy glorie ten toon stel. Albei liedjies het binne enkele weke die Top 20 trefferlyste van verskeie radiostasies in SA en Namibië behaal, en Dans in die Reën se musiekvideo speel daagliks op die kykNET kanale van DSTv.
Op A Touch Of Classic sing Du Toit, met sy ligte tenoorstem, in Engels, Italiaans en selfs Portugees. “Die snitte is gekies om werke deur verskillende komponiste soos Mozart en Verdi op ‘n ligte manier aan te bied. Alhoewel die album ‘n besliste klassieke kleur het, is die liedere meer ritmies en modern gespeel as waaraan tradisioneel gewoond is,” sê Van der Merwe.
O Sole Mio is die heel eerste snit op die album, gevolg deur Be Mine, Nessun Dorma, Funniculì, Funniculà en You Raise Me Up. Du Toit sing ook twee duette saam met Jeanine Volschenk – Amigos Para Siempre en Time To Say Goodbye.
Van der Merwe, wie se kitaarvernuf die albums van begin tot einde laat knetter, sê hulle het doelbewus wegbeweeg van die bekende Touch of Class-resep. “Dit is ‘n meer volwasse populêre musiek-benadering. Ons kon dit doen aangesien Ruhan se kwaliteit stem hom daartoe leen. Ons wil mense van alle ouderdomme en voorkeure bereik met musiek wat almal sal kan geniet.”
Beide Deon en Ruhan woon in Pretoria waar hulle voltyds musiek maak en ook deur die Touch of Class- musiekateljee betrokke is by die verwerking en vervaardiging van ander kunstenaars se produksies. Deon geniet motorsport in sy vrye tyd, terwyl Ruhan graag gaan visvang en van aksiekrieket hou.
Touch of Class beloof om verskeie harte aan te raak met ‘n keur van unieke klankjuweeltjies.

YouTube skakels na musiekvideos uit die Touch of Class repertoire:
Dans In Die Reën – Speel tans op meer as 40 radiostasies in SA, en behaal #3 op RSG se Top 10, sowel as op Bok Radio (#3), Bosveld Stereo (#2).

Vanaf die album Koffiefontein – Tans #3 op die kykNet/Musica Top 10.

http://www.youtube.com/watch?v=h3SWeESUtqA
O Sole Mio – vanaf die topverkoper ligte klassieke album A Touch of Classic wat tans #8 is op kykNEt en Musica se Top 10.
http://www.youtube.com/watch?v=c49tFeTc714