Valiant Swart

Konsertgangers kan uitsien na ‘n program gevul met top-Afrikaanse liedjies en stories uit Valiant se pen. Met sy blues-kitaar en bekfluitjie neem hy die gehoor saam met hom op reis deur die talle bestemmings wat hy op sy ruk-en-rol avonture aandoen, en stel hulle voor aan die karakters wat hy op die langpad teekom. Sy sielvolle woorde en wysies is deurspek met humor en deernis, en bekoor reeds die afgelope 22 jaar aanhangers landwyd.

Valiant het reeds 14 cd’s vrygestel, waarvan talle met toekennings bekroon is. Hy was ook die aanbieder van ‘n TV-reeks oor blues-musiek, wat hom op reis geneem het deur Mississippi, Tennessee en Louisiana. Daarby was hy die manlike hoofrolspeler in kykNet se ‘Song vir Katryn’-trefferreekse, waarvoor hy boonop die goue status-klankbaanmusiek gekomponeer het.

Nadat Lapa Uitgewers by 2011 se Woordfees Valiant se liriekbundel ‘Toorwoorde roep my’ vrygestel het, het hy ook begin om voorlesings-optredes te doen. Die sukses van hierdie eerste bundel en die gepaardgaande optredes, het gelei tot vanjaar se ‘Trouens en terloops’, ‘n versamelbundel van die gewilde rubrieke wat Valiant die afgelope sowat ses jaar vir publikasies soos Rooi Rose, Rapport en andere skryf.
Na bykans sewe maande op die langpad is Valiant uiteindelik klaar met die verfilming van die SABC2 reisreeks Mooiloop! As mede-aanbieder met Denvor Phokaners het hy die SA platteland deurkruis en klein dorpies besoek. Die reeks is geweldig suksesvol, met hoë kyksyfers en konstante ekstatiese terugvoer. (Woensdagaande 19h30, SABC2)

Tussendeur het Valiant ook optredes gedoen, natuurlik heelwat minder as gewoonlik, vanweë die druk skiet-skedule. Afgesien van ‘n paar solo-optredes, was hy meesal op die verhoog saam met Mel Botes, Piet Botha, Albert Frost, Robin Auld en Nathan Smith in hul ‘Riders from the Storm’-kitaarvertoning. Hierdie breinkind van Mel Botes is hoogs suksesvol – nie net trek dit vol sale in teaters landwyd nie; daar is ook nou ‘n mini-reeks oor die manne se avonture, genaamd ‘Ruiters van die Nag’, op kykNet te sien (Woensdagaande 20h30).

En na dit alles is Valiant alweer kliphard aan die werk op die verhoog. Hy het die dag na die afloop van sy Mooiloop!-shoots weer volstoom begin optredes doen. Afgesien van vertonings in die Skiereiland, op die Weskus en in die Noorde, lê daar ‘n Desember-kustoer voor, en besprekings vir 2014 rol reëlmatig in. Pre-produksie aan ‘n nuwe album (wat opsy geskuif moes word weens die televisiewerk) word ook eersdaags hervat.

Aanhangers het dus oorgenoeg om na uit te sien in die jaar wat voorlê.