Loading Events

ANTON GOOSEN – BIOGRAFIE

Anton Goosen het ‘n lang pad gestap vandat hy as student per trein gereis het van Heidelberg waar hy studeer het, na Oos-Londen om ‘n 15-minute set te doen by ‘n plaaslike verskeidenheidskonsert. Die jong Anton Goosen het hoofsaaklik Engelse covers gespeel en dit is nie bekend of enigeen in die gehoor besef het watter impak Anton op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in die algemeen en meer spesifiek die Afrikaanse musiekbedryf gaan hê nie.

Daar was sekerlik skeptici. Reeds in std. 9 het ‘n skoolsielkundige vir hom gesê dat daar geen toekoms vir hom in musiek is nie. Dit was na hy op skool begin musiek speel het, sterk be?loed deur liedjies soos johnny b. goode van Chuck Berry, I can’t get no (satisfaction) van die Rolling Stones en She loves you van die Beatles.

Na skool met geen onmiddellike musikale loopbaan in die vooruitsig nie het hy homself as onderwyser bekwaam en ook dan onderwys by St. Stithians gegee terwyl hy saans in kroeë speel. Tydens sy termyn by St. Stithians skryf hy ‘n musiekblyspel Jantjie wat deur die leerlinge opgevoer word.

Anton verlaat die onderwys in 1976 en begin as deeltydse resensent by die nuutgestigde Beeld werk. Hy gee in die tyd ook kitaarklasse en pottebakkeryklasse. Sy eerste onderhoud as beeld se musiekresensent was met die relatief onbekende Sonja Heroldt, wie se Ek verlang na jou toe pas begin het om gewildheid te verwerf. Tydens die onderhoud noem anton aan sonja dat hy ook liedjies skryf en na sy hom by sy huis besoek het, en deur sy liedjieversameling geblaai het, kies sy Jantjie om te sing en dit word haar tweede groot treffer.

Dit was die begin van ‘n suksesvolle werksverhouding wat vir byna vier jaar geduur het. Anton het in die tyd byna eiehandig al die musiek vir Sonja se albums geskryf. Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans en Oberammergau is net van die treffers waarmee Sonja Heroldt die treffersparades en toekenningsaande verower het.

Anton skryf nie net vir Sonja nie, maar skryf ook liedjies soos Hoeka toeka vir Carike Keuzenkamp, Straattroebadoere en Atlantis vir Laurika Rauch terwyl Richard Clayderman en Francis Goya beide Waterblommetjies opneem.

In 1979 skryf Anton die temamusiek vir die rolprent Pretoria o Pretoria. Die temalied uit di?olprent, die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie word binne vier dae na uitreiking verbied. Dit begin ‘n lang reeks van SAUK inperkings vir Anton Goosen. Anton herskryf die lirieke van kruidjie en die kortspeler van nuwe liefdesweergawe verkoop 40 000 eenhede. (Terloops die b-kant van die kortspeler was Waterblommetjies). Hierdie is die eerste kommersieël suksesvolle opname van Anton Goosen.
In dieselfde jaar reik hy sy eerste album uit, wat ook die eerste Afrikaanse album ooit deur ‘n sanger was wat sy eie liedjies in Afrikaans geskryf het. Die inspirasie het gekom nadat Chris Kritzinger in sy kantoor teenoor vir Anton gesê het dat hy ‘n album moet maak; iets soos Donovan.

Boy van die suburbs verkoop 80 000 eenhede – gewis nie sleg vir iemand wat geen toekoms in musiek het nie. Op die album breek Anton nog nuwe grond vir Afrikaans. Blommetjie-gedenk-aan-my word algemeen beskou as die eerste rocksong in Afrikaans en die rigting wat Anton hierna ingeslaan het besorg later aan hom die eretitel “Vader van Afrikaanse rock”.

Maar Anton het nie net die musiek van rock na Afrikaans gebring nie. Die protes teen die status quo wat altyd onderliggend aan rock is, was ook deel van Anton Goosen se bydrae. Antjie Somers en Hanoverstraat is van die eerste liedjies in Afrikaans wat teen gedwonge verskuiwings geprotesteer het. Mpanzaville opgeneem deur Laurika Rauch dra sterk verwysings na die Soweto-onluste. Die ATKV verbied Anton om by hulle verhoë op te tree na hy grappies tydens ‘n crescendo-optrede in die Stadskouburg oor die nasionale vlag gemaak het. Die verbod word later onder druk opgehef. Hy skok ook die gehoor by ‘n kulturele konsert by Unisa toe hy met ‘n rockband opdaag vir sy optrede. Sowat 300 van die 1200 mense in die gehoor loop uit tydens die drom-solo.

In samewerking met onder andere Laurika Rauch, Koos du Plessis en Clarabelle van Niekerk begin Anton in 1979 die musiek en liriekbeweging. Dit is al oor die tydperk gesê dat Afrikaanse musiek in twee kategoriee verdeel kan word. Dit wat voor Anton Goosen gebeur het en dit wat na Anton Goosen gebeur het. Hy wen ook twee Saries in die tyd.

Anton verlaat later die musiek en liriek beweging en vir meeste van die tagtigs sal hy voortbou op die rockgrondslag wat in die laat sewentigs gelêë is. Uitgebreide toere deur Suid-Afrika en Namibië volg in die tagtigs en hy verkoop oor die 400 000 plate.

In 1983 doen Anton die regie van Wildebeest, die eerste Afrikaanse rockalbum. Anton vestig homself as ‘n suksesvolle producer en die talent van hom sal veral in die negetigs na vore kom toe hy die baie suksesvolle Elke boemelaar se droom produseer vir Koos Kombuis en ook die krities geloofde Om te Breyten album.

In 1985 sluit Anton ‘n platekontrak met Peter Gallo op ‘n melkbottel. Dit is die begin van ‘n verbintenis wat nou nog stewig staan. Nog twee suksevolle albums volg: Lappiesland en Liedjieboer innie city/stad. In die albums verken Anton, wat toe pas na Gansbaailapa, sy plasie langs die Hennopsrivier getrek het, sy etniese oorsprong. Jare hierna sou hy op die “Putonnerwater” album die song Gansbaailapa aan sy ondersteuners bekendstel.

In 1989 slaan Anton ‘n nuwe rigting in, saam met Lukas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk stig hy die groep die Kommissie van Ondersoek – ‘n tong in die kies verwysing na die vele kommissies wat die Nasionale Party tydens hulle bewind saamgestel het. Die liedjie Winde van Verandering word onmiddelik deur die SAUK verban. Die liedjie loop die geskiedkundge gebeure van 2 Februarie 1990 vooruit. Toe die SAUK snuf in die neus kry van die veranderinge wat kom, ontban hulle die liedjie en Winde van Verandering word ‘n radiotreffer.

Ook in die jaar stel Anton Goosen die 19-jarige Ansie Kamfer, ‘n politiese aktivis, as sy bestuurder aan. Sy vertroue in haar word beloon toe sy ‘n jaar later Houtstok reël en daarin slaag om met haar eerste probeerslag 22 000 mense by ‘n Afrikaanse musiekkonsert te kry. Dit is tot op datum die grootste Afrikaanse musiekfees nog. Die FAK se fees by die Voortrekkermonument op dieselfde dag word deur slegs 15 000 mense bygewoon. Soos met die musiek-en-liriekbeweging vantevore, bevind Anton Goosen hom weereens op die lempunt van Afrikaanse musiek se ontwikkelling. Die CD van die Houtstok-fees opgeneem deur Peter Pearlson vang die gees van die geleentheid vas.

Tussen 1990 en 1992 werk Anton Goosen aan Danzer. Hy toer ook saam met rockbands soos Jack Hammer en die Backwater Blues Band. Die titelsnit van die Danzer album “Dancer” waar Anton en Lucky Dube saamsing haal gelyktydig die nommer een posisie op die 5 FM treffersparade asook Radio Metro. Nie net was die album ‘n kommersiële sukses nie, kritici was ook gaande daaroor. Insig noem die album die beste ooit in Suid-Afrikaanse musiek.

Gedurende die res van die negentigs reik Anton nog ‘n nuwe album, Bushrock uit. Riviersonderend en Putonnerwater – Anton se twee greatest hits albums word ook in die tyd uitgereik. In die laat negentigs neem Anton tyd om homself te herontdek. Hy bou sy huis klaar en reis deur Afrika.

In 1999 begin hy weer met lewendige optredes. Sy gehoor bestaan nou ook uit lede van ‘n nuwe geslag wat nog kinders was toe Anton op die toneel verskyn het. Heelwat van hulle was nog nie eers gebore toe Anton Boy van die suburbs uitgereik het nie. Anton se musiek word nou ook ‘n brug tussen die generasies.

Ouderdom maak Anton nie minder beginselvas nie. In 1999 weier hy om ‘n prys van die ATKV te ontvang omdat hulle ook mense beloon wie se werk hoofsaaklik uit vertaalde Engelse liedjies bestaan. Anton voer die stryd teen vertalings en die mense wat op verhoë verskyn met backtracks. Gedurende 2002 word die stryd tot ‘n punt gedryf met die backtracks brigade onder leiding van Steve Hofmeyr wat Anton Goosen takel op hoofsaaklik Litnet, maar later ook in die koerante. Die bloedneus wat Steve Hofmeyr op Litnet kry laat hom ‘n vendetta begin teen Anton Goosen wat hy eindig deur Anton ‘n selfmoord in die Hennopsrivier toe te wens. Anton ignoreer hom, maar verskyn darem by KKNK 2003 in ‘n t-hemp wat met Hofmeyr die draak steek.

Vis in die bos wen in 2002 vir Anton Goosen ‘n SAMA vir beste album. Die album word deur kritici beskryf as die eerste suksesvolle world music album in Afrikaans. Anton breek weereens nuwe grond vir Afrikaans. Sy bydrae tot Afrikaans word deur die letterkundige Gerrit Komrij erken toe sy lirieke in ‘n poësieversamelbundel ingesluit word.

Anton is ook die producer van die Om te Breyten album wat in 2001 ‘n SAMA wen vir Beste Afrikaanse album.

En in 2002 ontvang Anton Goosen ‘n Geraas toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek.

Anton is veral bekend daarvoor dat hy verskeie jong kunstenaars help om hul eie paaie te bou. Daarvan getuig die reeks Anton en Vrinne shows wat hy op kunstefeeste aanbied. Die idee vir Anton en Vrinne word gebore by die Volksjol tydens die Volksbladfees toe Valiant Swart en Karen Zoid by Anton en Beeskraal op die verhoog aansluit vir ‘n allermintige jam. Dit lei tot vele Anton en Vrinne optredes dwarsoor die land en ook tot ‘n optrede in die staatsteater. ‘n Suksesvolle DVD-opname van die show word vrygestel.

By die Huisgenootskouspel word Anton vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek met die toekenning vir Lewenslange bydrae tot musiek en hy is selfs ingehuldig in die Suid-Afrikaanse rock digest Hall of Fame.

Anton se nuutste bundel het ook die lig gesien in 2005. In die bundel, Hitte van die teerpad: Songs van die Liedjieboer kyk Anton terug oor sy loopbaan met sy lirieke, staaltjies en verhale, maar hy laat ook nie op hom wag nie. Die jaar 2005 was ook ‘n jaar van vernuwing vir Anton. Hy werk aan sy nuwe album, Groen Blomme, waarop hy met verskeie jong kunstenaars kragte saam smee. Die album word kort na die opvolgende nuwe jaar uitgereik en word met ope arms ontvang. Die Groen Blomme in die titel verwys na die jong, talentvolle kunstenaars wat saam met Anton aan die album gewerk het.

Die pad is lank maar hy is nog nie klaar geloop nie. Die pad loop ook nie net deur Afrika nie, maar daar is reeds verskeie suksesvolle Europese shows agter die blad. Sy pad loop ook nie alleen nie, maar loop saam met baie ander en diverse kunstenaars…

Sedert 2002 doen Anton en sy Bushrockband eenmaal ‘n jaar shows in die UK.

In 2006 verhuis Anton na die Kaap en vestig hom in Gansbaai nadat hy die slagoffer van ‘n gewapende rooftog op sy plaas aan die Hennopsrivier was.

In 2008 reik Anton 3 dubbel cd’s uit om sy 33 jaar in die bedryf te vier: 33 A-sides (liedjieboer-treffers) 33 b-sides (getye van verandering) en 33 Sea-sides (om te rock en roll).

In 2009 verskyn twee musiekboeke van Anton: Liedjieboer Boek 1 en 2 met 38 van sy werke en kry hy ook sy eie musiekprogram op Whale Coast FM: Deur die ore van.

In Meimaand 2009 ontvang Anton en Yvonne Chaka Chaka elk ‘n SAMA-toekenning vir hul lewenslange bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek.

Anton se aptyt vir vernuwing en musikale eksperimente is nog hoeka nie gestil nie.

Tickets

126 available
KaartjieR150.00Kaartjie - Anton Goosen (Geen Ete)

Please fill in all required fields

126 available
Kaartjie met eteR210.00Kaartjie - Anton Goosen (Ete)

Please fill in all required fields