Loading Events

Om ’n sewende ateljee-album uit te reik en bekend te stel terwyl jy vir die eerste keer pa word, is nie kinderspeletjies nie.

Maar die 37-jarige Kahn Morbee, sanger en liedjieskrywer van The Parlotones, moet nou maar sterk staan en vinnig leer hoe om sy tyd tussen werk en gesin te verdeel.

Die groep se jongste album, Antiques & Artefacts, het in April op die rakke verskyn, maar op 3 Julie het Morbee ’n babaseuntjie, Jaxon Milo Morbee, ryker geword. Dié klein rakker is nou agt weke oud.

Morbee en sy vrou, Candace, vier later vanjaar hul tweede huweliksherdenking.

“Pa-word is ’n uiters positiewe ervaring, maar jy moet fokus,” sê Morbee wat die afgelope week weer op die pad was om solokonserte in Bloemfontein en ­George te hou.

“Ek sou in die verlede 300 konserte ’n jaar gehou het as ek kon,” sê hy.

“Maar nou is familietyd vir my ’n besonderse groot prioriteit en ek gaan baie meer by die huis wees as in die verlede.”

Morbee het nie net as gesinsman “meer intiem” geraak nie, maar ook as sanger.

Hy doen deesdae baie solo-konserte en het ’n splinternuwe uitkyk op sy eie loopbaan gekry.

“Daar is ’n lekker balans tussen my solowerk en die Parlo­tones,” sê hy. “Wanneer ek alleen optree, speel ek in plekke waar ek nie met die hele groep sou kon konsert hou nie, kleiner sale, restaurante en pubs.”

Die idee van “kleiner plekkies” het so ’n bietjie aan The Parlotones as groep ook afgesmeer.

“Ons het altyd net in Suid-Afrika se groot stede gejol,” sê Morbee. “Maar wanneer ons later vanjaar met die Antiques & Artefacts-album gaan toer, sal jy ons nie sommer in Johannesburg, Pretoria of Kaapstad sien nie. Dié keer toer ons Klerksdorp, Welkom, Kimberley en Nelspruit toe. Ons gaan ook in Namibië en Botswana speel.”

Die groep het drie jaar lank in Amerika gewoon, maar het besluit om terug te trek na hul eie wortels toe. “Dit was net ’n driejaarvisum,” sê Morbee, wat saam met sy makkers die kat daar uit die boom gekyk het.

“As groep wou ons nie regtig daar bly nie. Ondanks al die probleme hier in Suid-Afrika is dit ’n ongelooflike plek om in te woon. En jy hoef mos nie in ’n ander land te bly om daar te kan optree nie.”

Sy nuutste motto is: Home is not a zip code.

“Ons gaan wel ons agtste album in Boston opneem, maar Johannesburg bly in ons bloed,” sê Morbee.

Tickets

101 available
KaartjieR160.00Kaartjie - Kahn (Geen ete)

Please fill in all required fields

101 available
Kaartjie met eteR240.00Kaartjie - Kahn (Met ete)

Please fill in all required fields