Loading Events
  • This event has passed.

MATHYS ROETS

Die Suid-Afrikaanse sanger Mathys Roets begin sy loopbaan as sanger in alle erns gedurende 1996.

Mathys het homself oor die afgelope vyftien jaar as ‘n ernstige Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar gevestig.  Die lang man met die meesleurende stem is veral bekend vir sy besonderse vertolking van musiek van Koos du Plessis en Leonard Cohen, maar met sy reeks Masters of Song, het hy ook reg laat geskied aan die immergewilde klanke van Cat Stevens, Neil Diamond en Roger Whittaker

Mathys tree gereeld by die groot kunstefeeste op, waar sy vertonings gewoonlik reeds voor die feeste begin, vol bespreek is.  Hy sing beide Afrikaanse en Engelse musiek wat groot byval vind by sy gehore.

Hy het ook al op uitnodiging gesing in Engeland, Griekeland, Kanada, Londen, Dubai, Nieu-Seeland en Australië – met groot sukses.

Mathys het reeds 14 CD’s vrygestel en is ook die eerste kunstenaar in Suid-Afrika wat ‘n DVD vrygestel het.  Hierdie DVD, “Mathys Live Vrydag die 13de”, verkoop tans baie goed en is landwyd beskikbaar.  Die opname sluit twee ure se opnames in die Centurion Teater in en Mathys sing saam met sy orkes van sy bekendste liedjies asook ‘n paar nuwe treffers.  Mathys beskryf die opname as een van die hoogtepunte van sy loopbaan.  Die DVD is ook ‘n eerste vir SA!

Hy het ook sy tweede DVD, “Songs of Leonard Cohen”, einde Desember 2005 vrygestel.  Die vertoning is lewendig opgeneem in die Sand Du Plessis teater in Bloemfontein, waar hy opgetree het met ‘n orkes wat bestaan uit van die beste musikante in die land.  Met dié opname is daar gepoog om die beste moontlike beeld- en klankkwaliteit te bied.

In 2006 het die album Fluister verskyn. Volgens Mathys hou hy daarvan om dinge op ’n stiller manier te doen, en dis waarom Fluister so na aan sy hart lê. Die helfte van die liedjies is deur Piet van Wyk De Vries geskryf en die kwaliteit daarvan vergestalt die slagspreuk: Trots Suid-Afrikaans.

Mathys se dertiende CD, In retrospeksie, het 2009 verskyn. Daarop is gunstelinge soos “Don’t believe in if”, “Droomvrou”, “Dance me to the end of love”, “Daar’s ’n plek”, “Splinterruit”, “Bird on a wire”, “Fluister”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Hallelujah” en “Gebed”. Dié versameling van 22 liedjies som sy omvangryke talent en besonderse styl op.

Sy CD, Droomvrouens, is die album vir romantiese kersligaande, en ook vir daai nagte wanneer jy selfbejammerend en alleen sit en tob oor waar alles dan verkeerd gegaan het …..

Mathys se nuwe CD, Rembrandt en sy Meisie op die Maan” is in November 2011 vrygestel – met groot sukses!

Die album bestaan uit liedjies, onder andere geskryf deur Piet van Wyk de Vries en Danie Niehaus, soos “Rembrandt”, “Madelein”, “Iemand het ‘n ster laat val”, “Soms”, ens..

Mathys Roets is sinoniem met sinvolle musiek waarna mens lank kan luister.  Die kunstenaar met die sensuele, warm stem – soos ryk praliensjokolade – maak elke vertoning spesiaal en hy boet nooit kwaliteit in nie.

Mathys het die afgelope paar jaar deeglik kennis gemaak met afskeid, verlies en veranderings.  Dit het hom geleer om aanpassings te maak en die lewe weer vierkant in die oë te kyk!

Kom luister na sy musiek wat ‘n impak het oor hoe al hierdie situasies, uitdagings kan word wat jou leer om alle versperrings in die lewe te oorkom.

Hy doen ‘n knap versameling van liedjies van sy CD, “Rembrandt se Meisie in die Maan”, en natuurlik ook ‘n paar van sy ou gunstelinge.  Dit is liedjies wat nie net ten volle reg laat geskied aan sy stem nie, maar ook ‘n skitterende voorbeeld is van die land se beste liriekskrywers.

‘n Nuwe vertoning, nuwe klanke, maar steeds Mathys!

Tickets

90 available
Kaartjie met kosR210.00Mathys Roets - 8 Junie 2018

Please fill in all required fields