• Nicholis Louw Vrydag, 6 Oktober 2017

  • Chris Chameleon Vrydag, 20 Oktober

  • Touch of Class Woensdag, 25 Oktober

  • Tarentaal Teater en Restaurant

  • Adam Tas 6 & 7 Desember 2017

Welkom by die Tarentaal Teater en Restaurant

 
 

Dagsê Tarentalers

Vir baie jare is die naam “Michelé” sinoniem met die Tarentaal. Vir besprekings en navrae het julle vir Michelé gebel wat altyd gereed was om te help. En nou gaan dit alles verander!

Abigail, Michelé en Louis se pienkvoet-eersteling, maak binnekort haar opwagting. Abbi, gaan al haar mamma se tyd in beslag neem en daarom gaan Michelé haar Tarentaalpligte oorgee aan Maryna.

Ons opregte dank aan Michelé vir haar ongelooflike toewyding waarmee sy die Tarentaal se belange vir agt jaar op die hart gedra het. Net haar beste was altyd goed genoeg.

Dankie Chellie! Mag jy baie seën ontvang en mag Abbi vir julle groot vreugde bring.

Aan Maryna de Vries wil ons baie welkom sê by die Tarentaal.
Ons glo dat jy baie gou sal inskakel en die Tarentaal-warmte sal ervaar.

 

Ons Geskiedenis:

Agtergrond
Soos die Rustenburg omgewing vir baie jare bekend was vir sitrus verbouing en uitvoere met die sogenaamde “Outspan” handelsmerk, was die plaas waarop die Tarentaal Teater gebou is, ook ‘’n baie bekende sitrusplaas.

Die Naam
Die plaasnaam “Pomona” (afgelei van die Romeinse godin van vrugte) is in 1914 deur Mnr. Mackenzie aan die plaas gegee, nadat hy in die 1880’s, as ’n jong man op ‘n plaas naby Los Angeles, California, U.S.A, met dieselfde naam, die wêreld se eerste navel lemoenbome versorg het.

Die boerdery
Met die internasionale ervaring wat Mnr. Mackenzie in die V.S.A. en Australië opgedoen het, was Pomona ’n prominente sitrusplaas wat baie toekennings ingepalm het. Die vrugte is oorspronklik hier in die pakhuis, nou die Tarentaal Teater, verpak en na Londen uitgevoer. In die 1920’s was Mnr. Mackenzie ‘n stigterslid van die Rustenburg Sitrus Koöperasie in Lukasstraat en was dit nie meer nodig om die lemoene hier te verpak nie en is die pakhuis as stoor gebruik.

Die eienaars
Die plaas is in 1914 deur Mnr. Mackenzie van Mev. Botha gekoop. Met die afsterwe van Mnr. Mackenzie, word die plaas deur sy twee kleindogters Natalie en Rose-Mary geërf. Vir die eerste keer in 87 jaar word Pomona verkoop toe die bejaarde Mackenzie erfgename, op 30 Julie 2001, die plaas aan die huidige eienaars verkoop…

Die Tarentaal Teater word ‘gebore’ met die sukses van die eerste ‘Koos du Plessis’ vertoning in November 2009 en is alreeds tweemaal vergroot om te voldoen in die aanvraag en kan spog met vertonings deur van die beste kunstenaars.

 

Geboorte van 'n droom:

Die gewaarwording was altyd daar...van die heel eerste keer af, was dit daar. Toe ek in hierdie "blikstoor" ('n naam wat my skoonpa dit sou gee) instap het ek geweet; iets spesiaals moet hiervan gemaak word.
Ek wou graag musiek maak, Koos du Plessis se musiek. Hoekom vra ons nie ook ander kunstenaars om hulle musiek hier te kom aanbied nie?
En so het die droom begin groei. Met baie aanmoediging van my gade, ons kinders en die publiek het die droom waarheid geword in die somer van 2009.
Die eerste Koos Dup musiekaand - hier in ons eie teater! Dit was 'n ongelooflike aand - en die begin van baie wat sou volg.
Dit is nou bykans agt jaar later en dit lyk my ons tarentaaltjie is besig om vinnig te groei en mooi sterk te word. Ons opregte dank aan ons ongelooflike lojale ondersteuners , dankie dat julle aanhou terugkom, met nuwe vriende wat ook wil deel in die Tarentaal 'magic.' Dankie vir die son van genade wat ons Vader oor ons teater laat skyn.
O ja! Die musikante is gewoonlik saans in kompetisie met ons plaaslike tarentaal bevolking. Omdat die tarentale op musiekaande tot laat wakker gehou word en hulle bekke moet hou, het ons ooreengekom dat die teater na hulle vernoem word...........
Chris

Algemene Reëlings:

  • Tafel plasings word gedoen volgens datum van betaling; van voor na agter - jou tafel sal op die aand aangewys word
  • Geen stootwaentjies; bring 'n kombersie saam vir jou kleuter om op te sit
  • Bespreek 'n heerlike ete saam met jou kaartjie of bring 'n lekker piekniekmandjie; etes is nie verpligtend nie
  • Ons het 'n ten volle gelisensieerde kroeg, geen koelbokse met ander drinkgoed
  • NEEM KENNIS: Besprekings is slegs volledig na 'n suksesvolle betaling EN 'n Bevestiging van Bespreking wat per e-pos na jou gestuur sal word. Geen Bevestigings e-pos, geen bespreking, geen toegang!